Tuis Visie en Missie Woordskool Departemente Aktiwiteite Fotoblad Vorms Kontak Adres

Geloof - Vervolg

Dit beteken hierdie tipe geloof is die vertroue op God se beloftes as ’n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag word.  Hierdie geloof reken die beloftes van God as ’n realiteit, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie.  Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker.  Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die rede hoekom ’n mens dít van God se beloftes kan glo, word dan deur die skrywer begrond in twee getuienisse uit die verlede: 1) die verhale van die geloofsgetuies (11:2) en 2) die skepping van die wêreld deur die woord van God – ex nihilo – uit niks uit nie (11:3).  Dié verhale uit die verlede gee aan geloof sy toekomsgerigte karakter.  Soos God Homself in die verlede bewys het in die geloofsgemeenskap sowel as in die skepping, só kan Hy vertrou word om ook in die toekoms op te tree en sy beloftes waar te maak.

11:4-7 – Geloofsvoorbeelde uit die oertyd

Dit is met dié tipe geloof, ’n geloof wat die toekoms tegemoetgaan op grond van God se woord gerugsteun deur sy beloftes, dat die geloofsgemeenskap moet lewe. Hoekom?  Die skrywer is duidelik daaroor: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat hom soek.” (11:6).

Hy gebruik drie verhale uit die oertyd as geloofsvoorbeelde: Abel (Gen. 4), Henog (Gen. 5) en Noag (Gen. 6-9).

Hoekom Abel ’n beter offer as Kain aan God gebring word, word nie uitgespel nie, behalwe die feit dat God oor sy gawes getuienis gelewer het deur Hom as regverdig te verklaar.  Jesus het ook van Abel se vroomheid en onskuld gepraat, maar sonder om dit aan sy offer te verbind (Matt. 23:35).  Die skrywer sal later ’n vergelyking tref tussen Abel en Jesus.  Waar Abel se bloed om vergelding geroep het (Gen. 4:10), roep die bloed van Jesus egter om versoening vir elkeen wat daarmee besprinkel is (hfst. 12:24).

Die skrywer sluit aan by wat van Henog in die OT gesê word dat hy “naby God” geleef het (Gen. 5:22) en beskryf hom as iemand wat deur geloof “God behaag het”.  Om die waarheid te sê, sê die skrywer, “deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie”.  Hy was dus in terme van Hebreërs se uitleg van geloof in vers 1, só seker van God se beloftes dat hy die werklikheid in hierdie lewe kon belewe!  Judas, die broer van Jesus, noem Henog ook ’n profeet wat oor die toekoms wat God bring, getuig het (Jud. 14).

Waar in Abel en Henog se geval hulle verhouding met God in die kollig was, getuig Noag se voorbeeld van die feit dat hy God se woord nie net gehoor het nie, maar daaraan gehoorsaam was: “oor dit wat nog glad nie gesien is nie”!  Hy het daarom die ark gebou wat die redding van sy huis beteken het en “’n erfgenaam geword het van die regverdiging (of vryspraak) volgens geloof”.  Die keersy daarvan was dat dit die wêreld van daardie tyd vir hulle gebrek aan geloof en vertroue op God veroordeel het.

11:8-23 – Geloofsvoorbeelde uit die aartsvadertyd

Hy vervolg met vyf verhale uit die aartsvadertyd: Abraham en Sara (Gen. 12-25), Isak (Gen. 21-27), Jakob (Gen. 25-49), en Josef (Gen. 37-50).

Dieselfde tema van geloofsgehoorsaamheid en -vertroue wat met Noag aan die orde gestel is, word nou in die verhale van hierdie aartsvaders en –moeders nagevolg.

Abraham se geloofsgehoorsaamheid toe hy geroep is om te trek na ’n plek wat hy as erflating sou ontvang, en sy verblyf as bywoner in dié land, word geprys.  ’n Bietjie meer inligting word gegee oor sy motivering: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.”  Daarmee word sy roeping verbind nie net aan die fisiese land waarheen hy getrek het nie, maar aan die toekomstige Jerusalem wat God as deel van sy koninkryk sal oprig.  Dit gee waarskynlik ook meer detail oor die “sabbatsrus” wat vir die volk van God aan die einde van die tyd voorlê, soos die skrywer in hfst. 5:9 in die vooruitsig gestel het.

Volgende