Tuis Visie en Missie Woordskool Departemente Aktiwiteite Fotoblad Vorms Kontak Adres

Geloof - Vervolg

Sara se geloofsvertroue op God: “aangesien sy Hom wat dit belowe het, getrou geag het,” word geprys.  Die gevolg daarvan was ’n nageslag “in getal so veel soos die sterre van die hemel en soos die ontelbare sandkorrels op die strand by die see”.  Sy het deur geloof as’t ware lewe gegee aan Abraham “wat so te sê dood was”!

Die skrywer onderbreek sy vertelling om ’n gevolgtrekking te maak, gebore uit die feit dat elkeen van dié geloofsgetuies gesterf het, sonder dat hulle die volle werklikheid van die beloftes ontvang het.  “Maar hulle het dit van ver afgesien en verwelkom, en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde is.”

Die beloftes het dus ’n hunkering in hulle wakker gemaak na ’n beter bedeling, ’n hemelse een.  Die land en nageslag van Israel kon nie vir Abraham of Sara volle genoegdoening gee nie.  Net God en die stad wat Hy vir hulle voorberei, kon dit doen.  Om daardie rede is God nie skaam om hulle God genoem te word nie en hulle in te nooi in die stad wat Hy vir hulle voorberei.

Die skrywer vervolg met die verhaal van Abraham waar hy bereid was om die beloofde nageslag, Isak, op te offer in sy gehoorsaamheid aan God se opdrag.  Hoekom?  “Omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek”!

Abraham het daarom die wonder beleef dat God vir Isak as’t ware uit die dood uit vir hom teruggegee het, ’n ervaring wat die opstanding van Jesus Christus uit die dood uit voorafgeskadu het.

In drie verdere kort verse word Isak en Jakob se seën van hulle seuns met die oog op die toekoms aangeraak, sowel as Josef wat van die Eksodus onder leiding van Moses melding gemaak het, ’n goeie vierhonderd jaar daarvoor.  Die toekomstige en onsigbare karakter van dié dinge waaraan geloof vasgryp, word dus onomwonde geïllustreer in hulle verhale.  Hulle het die toekoms as werklikheid gereken.

11:24-31 – Geloofsvoorbeelde uit die Eksodus- en Intogtyd

Die skrywer kies vier verhale uit die Eksodus- en Intogtyd, die verhale van die ouers van die onvergelyklike leier Moses, uiteraard Moses self (Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), die volk in Josua se tyd met die oorwinning oor Jerigo, en dan die ewe onvergelyklike vrou Ragab uit dieselfde verhaal (Josua 2 en 6).  Interessant genoeg word Josua nie genoem nie.

Moses se ouers, Amram en Jogebed (Amram se tante volgens Eks. 6:19), albei uit die stam van Levi, deel van die Kehat-groep, het Moses in vertroue op God drie maande lank weggesteek, nie net omdat hulle gesien het dat hy mooi is nie – watter ouer sou dit nou nie gedink het van sy pasgebore kind nie – maar omdat “hulle nie vir die koning se bevel bang was nie”!

Moses het op sy beurt deur geloof in God die moeiliker pad gekies om hom eerder by die volk van God te skaar as by die Egiptenare, ’n moontlikheid wat vir hom beskore was as aangenome seun van die farao se dogter.  Hy het eerder verkies “om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef”.  Die skrywer lê dit verder retrospektief uit as die keuse vir die smaad van Christus eerder as die keuse vir die skatte van Egipte.

Daarom kon Moses Egipte: “verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien.” Hier is ’n mens op heilige grond, want die skrywer reken dat Moses in geloof aan Christus vasgegryp het, sonder dat hy Hom kon sien.

Hy brei verder uit op die instelling van die Pasga – waarop die nagmaal natuurlik geskoei is – as geloofsdaad waarvan die bloed aan die deurkosyne hulle eersgeborenes van die doodsengel beskerm het, sowel as op die trek deur die Rooisee.

Laastens noem hy die geloof van die volk sowel as geloof van die prostituut Ragab met die val van die mure van Jerigo in vertroue op God.  Ragab het deur geloof nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, “omdat sy die spioene in vrede ontvang het” (vgl. ook Jak. 2:25).  Sy trou natuurlik uiteindelik met Salmon by wie sy ’n seun Boas gehad het, wat met die Moabiet Rut getrou het uit wie Obed gebore is, die pa van Isaï, die pa van koning Dawid.  Ragab, die oumagrootjie van Dawid se pa se geloof het haar dus ingeskryf in die geslagsregister van Jesus (Matt. 1:5).  Dawid was haar agter-agter-kleinkind.

Volgende